Laat ek verduidelik. Ons is soms so gemaklik dat ons dink erge goed gebeur net met ander mense. Maar dan moet jy onthou, daar is miljoene ander mense wie dieselfde siening as jy het. So, jy is ander mense se ander mense.
In my innocent little mind het ek voorheen, toe ek nog jonk en dom was, redeneer dat slegte goed net met slegte mense gebeur. Ag hoe stupid en stiksiende kan ‘n mens nie soms wees nie ne.
As dit waar was, moes my Ouma ‘n verskriklike peslike mens gewees het dat sy twee seuns moes begrawe, een seun gehad het wat na ‘n ongeluk blind is, ‘n dogter met se maar ‘sielkundige probleme’ ensovoorts ensovoorts ensovoorts. Gelukkig is Ouma nou dood en hoef sy nie meer deur die hel van die lewe te gaan nie.
As dit waar was, moes my Pa ‘n bliksem gewees het om deur sy familie afgesny te word en met ‘n kanker demoon moes baklei tot elke greintjie krag deur die monster opgevreet was en net ‘n skadu van my alles oor was.
As dit waar was, is ek seker een van die slegste persone wat leef wat meer as die helfte van geliefdes al moes begrawe en totsiens roep.
As dit waar was – ja, maar dit is nie.
Ja ek weet ek klink vanaand swartgallig maar ek is nie. Ek is ontnugter. Ek besef dat aaklige goed nie vra waar jy grootgeword het nie. Dit vra nie hoeveel geld jy het nie. Dit vra nie hoeveel vriende jy het nie. Dit gebeur net. Of jy nou mooi, lelik, vet, maer, ryk, arm, verfynd, ongeskik of watookal is. En dis so fokken onregverdig.
En my klein breintjie het soms nie die kapasiteit om hierdie goed te verstaan en reg te redeneer nie. Want jy kan nie.
Met onlangse gebeure in mense baie na aan my se lewens maak dit my bang. Dat hulle met sulke demone en monsters gekonfronteer word om hulle te treiter en hulle lewe hel te maak, maak nie vir my sin nie.
Moet asseblief NIE vir my enige kommentaar los oor ‘elke persoon het ‘n spesifieke pad’ of ‘daar is groter planne vir daai persoon’ of ‘jou pad is lankal vooruit beplan’ of ‘gaan op jou kniee en se dankie’ of of of nie. Daai is ‘n ander stryd waarmee ek al jare besig is en op my eie tyd sal uitsorteer. As jy glo is ek baie bly vir jou dat jy iets het wat vir jou ‘n rots is, maar hou asseblief daardie kommentare vir jou binnekamer.
Ja, ons is ander mense se ander mense.
Ek is lief vir julle M en F en C en J.










