Grammy Awards

Ek het gisteraand die Grammy’s gekyk en dit was nou vir jou ‘n show en ‘n half. Dankie tog LL het nie die hele aand om Whitney laat draai soos ek verwag het nie. Ja, dis tragies vir haar familie, vriende en aanhangers, maar dit was nie haar aand nie (skiet my).

Toe ek so paar jare terug ‘n tiener was 😆 was Bruce Springsteen een van my gunstelinge, veral as hy daai heupe so geswaai het terwyl hy Born in the USA gesing het, en hier open hy die aand. Die man is nou lankal nie meer jonk nie, maar hy het dit nog steeds.

Die Beach Boys se Good Vibrations het my sommer my lyfie laat swaai en my voete laat jeuk om te dans.

Ek wil Lady Gaga net een vragie vra – WTF??? Dit het gelyk of sy haar gesig in een van daai gammon netjies toegedraai het. Die mens is strange – talented, maar strange. Nicki Minaj se poging om Gaga na te doen met ‘n teatrale nommertjie met ‘n pous en monikke was nou regtig nie een van my gunstelinge nie – los dit liewer vir Gaga ok.

Adele Adele Adele, wat kan mens nou se. Hierdie girl is amazing. Sy het met armsvol welverdiende Grammy’s weggeloop. Die vrou se sangstem en haar presence is net absoluut puik. Die aksent as sy praat laat jou natuurlik dink aan ‘n klein engelse dorpie waar nie veel aangaan nie, maar as sy sing – mmmmmm.

Die hoogtepunt vir my natuurlik was die jam-sessie met Foo Fighters, Bruce Springsteen, Sir Paul McCartney en ander. Hoe cool was dit!!!!

 

Onthou Net Jy Is Ander Mense Se Ander Mense

Laat ek verduidelik. Ons is soms so gemaklik dat ons dink erge goed gebeur net met ander mense. Maar dan moet jy onthou, daar is miljoene ander mense wie dieselfde siening as jy het. So, jy is ander mense se ander mense.

In my innocent little mind het ek voorheen, toe ek nog jonk en dom was, redeneer dat slegte goed net met slegte mense gebeur. Ag hoe stupid en stiksiende kan ‘n mens nie soms wees nie ne.

As dit waar was, moes my Ouma ‘n verskriklike peslike mens gewees het dat sy twee seuns moes begrawe, een seun gehad het wat na ‘n ongeluk blind is, ‘n dogter met se maar ‘sielkundige probleme’ ensovoorts ensovoorts ensovoorts. Gelukkig is Ouma nou dood en hoef sy nie meer deur die hel van die lewe te gaan nie.

As dit waar was, moes my Pa ‘n bliksem gewees het om deur sy familie afgesny te word en met ‘n kanker demoon moes baklei tot elke greintjie krag deur die monster opgevreet was en net ‘n skadu van my alles oor was.

As dit waar was, is ek seker een van die slegste persone wat leef wat meer as die helfte van geliefdes al moes begrawe en totsiens roep.

As dit waar was – ja, maar dit is nie.

Ja ek weet ek klink vanaand swartgallig maar ek is nie. Ek is ontnugter. Ek besef dat aaklige goed nie vra waar jy grootgeword het nie. Dit vra nie hoeveel geld jy het nie. Dit vra nie hoeveel vriende jy het nie. Dit gebeur net. Of jy nou mooi, lelik, vet, maer, ryk, arm, verfynd, ongeskik of watookal is. En dis so fokken onregverdig.

En my klein breintjie het soms nie die kapasiteit om hierdie goed te verstaan en reg te redeneer nie. Want jy kan nie.

Met onlangse gebeure in mense baie na aan my se lewens maak dit my bang. Dat hulle met sulke demone en monsters gekonfronteer word om hulle te treiter en hulle lewe hel te maak, maak nie vir my sin nie.

Moet asseblief NIE vir my enige kommentaar los oor ‘elke persoon het ‘n spesifieke pad’ of ‘daar is groter planne vir daai persoon’ of ‘jou pad is lankal vooruit beplan’ of ‘gaan op jou kniee en se dankie’ of of of nie. Daai is ‘n ander stryd waarmee ek al jare besig is en op my eie tyd sal uitsorteer. As jy glo is ek baie bly vir jou dat jy iets het wat vir jou ‘n rots is, maar hou asseblief daardie kommentare vir jou binnekamer.

Ja, ons is ander mense se ander mense.

Ek is lief vir julle M en F en C en J.

 

Ek Wil Weer Kaap Toe

Knysna

Ai toggie maar die Kaap is mooi. Ons was in Sedgefield vir ‘n week en mense, dit was gans en al te kort. Ek is absoluut versot op die omgewing – veral Knysna het ‘n besondere bekoring. Dis die mooiste mooiste plek en ek is vas oortuig dat ‘n hoë persentasie Afrikaanse liedjies van die Kaap af kom. Ons het in die kar elke keer gelag as ons dink aan Oudtshoorn is ‘n groot voël paradys (private grappie), Beautiful in Beaufortwes, Victoriabaai, Uniondale, dan natuurlik Knysna wat jou laat dink aan Daleen Mathee se boeke wat ons al gelees het. Ek was baie hartseer om totsiens te sê vir die mooie plekke en as ek ‘n keuse gehad het, sou ek more daar gaan bly.

Ek moet ook net sê die mense in Sedgefield is fantastiese mens mense. Ek het so welkom gevoel en was gladnie as ‘n blerrie vaalie behandel nie. Die mense was vriendelik en behulpsaam en hier en daar het ons nogal so bietjie comic relief ook gehad. Die aksente is ook natuurlik iets was my ure sal vermaak (g’n ge-small things nie ne tsk!).

Hierdie trippie was ook een van my en R se nuwe memories (ek bou nou al ses jaar nuwe memories…..) en dit was fabulous dat ek het hy dit soos kinders kon opdrink want nie een van ons was al in die omgewing nie. Ek het al deur die dorpies gery op ‘n vorige geleentheid, maar my Pa het daai tyd nêrens gestop nie en sy oë was net gerig op die eindbestemming 🙂 tot totale frustrasie vir my en my Ma, maar die keer het ons al die klein dorpies darem bietjie explore ne Ma.

Vir die mense wat in Knysna, George, Sedgefield, Plettenbergbaai, Victoriabaai, Buffelsbaai, Lake Pleasant en omgewing bly, julle is so verskriklik bevoorreg. Ek sal my voortande gee om daar te kan bly.

Ek kan nou nie wag om die volgende trippie Kaap toe te reel nie – ons het nou aan die een kant begin en gaan hom nou so deurwerk tot aan die ander kant.

Skooldae – Oor en Verby!

Die 5de Januarie 2012 het soos ‘n berg voor my gelê. Ek weet dit klink dalk na ‘n baie negatiewe siening (onthou ek werk hieraan), maar ongelukkig sien ek soms die glas as half leeg instede van om net dankbaar te wees dat daar wel iets in die glas is. So twee jaar terug het ek geskryf van Rooikop + Skool = disaster, en as jy my blog volg sal jy wel weet wat ek bedoel.

Rooikop het sy uitslae hierdie keer self by die skool gaan haal en my natuurlik laat voel asof ek maande lank moes wag vir die nuus. Die klein wetter bel my toe nogal van die skool af en laat weet dat dit nie goeie nuus is nie. Natuurlik het dit gevoel asof my wind uitgeslaan was! Toe hy uiteindelik by die huis uitgekom het en ek die uitslae self gesien het was hierdie Ma darem maar so trots, verlig, bly, verlig, in die wolke, verlig, ekstaties, verlig. Het ek genoem dat ek verlig was?

My ou Rooikop het in my oë goed gedoen met ‘n onderskeiding in TT (ek het nog nooit gewoond geraak aan die nuwe benamings van die vakke nie). Hy mis twee ander onderskeidings met 3% elk en sy juffrou het voorgestel ons laat die vraelstelle hermerk om te sien of hulle die ander drie persent iewers kan opspoor nie. Dit sal hemels wees, maar hierdie Ma is tevrede.

Geluk Rooikop Ma is so trots op jou en nou stap ons weer vorentoe in ‘n nuwe avontuur in. Saam sal ons berge kan versit, al vat dit soms bloedsweet. Dis nogal moeilik om met ‘n mini-me saam te leef maar ons raak al hoe beter hiermee ne.

2012 Be Nice Or Else…….

So dis al die derde dag van Januarie 2012 mense! Ja die tyd vlieg en dit voel asof ek al hoe vinniger oud word 🙂 maar gelukkig het ek myself al oortuig dat ek soos goeie rooi wyn is en net beter raak met tyd. Botox is natuurlik gladnie uitgesluit nie 😉

Ek hoop hierdie jaar behandel julle saggies en dat dit net goeie dinge sal bring.

My lysie vir hierdie jaar (let wel dit is NIE nuwejaarsvoornemens nie, maar eerder lewensbesluite):

* Ek gaan meer lees.
* Ek gaan meer lag.
* Ek gaan meer dans.
* Ek gaan meer kalmeer.
* Ek gaan meer sing (jammer bure).
* Ek gaan meer tyd maak vir my familie – my eie.
* Ek gaan meer tyd maak vir my vriende – my eie.
* Ek gaan myself nou en dan bederf sonder om skuldig te voel.
* Ek gaan meer blog – nee rerig!
* Ek gaan positief wees.
* Ek gaan ‘n bestuurderslisensie kry (ja-ja sluk nou jou tong in!)
* Ek gaan my humeur op verlof stuur.
* Ek gaan ‘n beter ‘girlfriend’ wees – 4kit kan jy nog op 41 ‘n girlfriend wees? 😯
* Ek gaan probeer om voor middernag in die bed in te klim.
* Ek gaan hierdie jaar plekkies soek waar ons naweke heen kan gaan – een keer ‘n jaar vakansie werk nie.
* Ek gaan begin oefen – al is dit net swem of om die blok draf.
* Ek gaan gelukkig wees!

Dis dalk nou genoeg om mee te begin en die lysie sal dalk langer raak met tyd. Ek hoop ek kan by die meeste van hierdie regmerkies maak aan die einde van die jaar.

So aan al die bloggers waar ek gereeld kuier en wie ook hier kom oë wys, ‘n Voorspoedige Nuwe Jaar word julle toegewens! en vir die lurkers ag vir julle sommer ook.

Los Drade

Dis Vrydagaand en ek sit voor die rekenaar – maak jou eie afleidings – geen pryse word uitgedeel vir die een wat reg raai nie.

Rooikop is op sy eerste vakansie sonder my en dit maak my bang. Hulle het vanoggend gery Uvongo toe en darem in een stuk daar aangekom en sy voete was al klaar op die sand en in die see. Hulle bly nie klein nie – ‘apron strings’ en so (maak die strik stywer vas).

Dis amper Kersfees en vir my is dit geen fees nie. Ek haat Kersfees. Ja ek weet dis ‘n verskriklike erge woord, maar dis hoe ek voel – deal with it. Om als te kroon kom Boney M Sun City toe vir ‘n show. Ek sou graag ‘n bom ekspert wil raadpleeg voor hulle vertoning – kan jy dit al sien in lights ‘Boney M sings to the stars’.

Stilstuipe – rekord – ses dae. Ek kan al by ‘n klooster aansluit. Hulle doen mos die vow of silence of so iets dergliks.

Sou nooit ooit so gedink het nie, maar ek mis my werk. Ek oorweeg dit al om kruipende te gaan smeek vir my 9-5 (lees 9-9) sodat ek weer kan voel ek is iets werd.

Soms wonder ek wat maak ek hier op hierdie spot op hierdie tyd op hierdie aardbol – moenie worry nie daar is geen swart honde in die omtrek nie – my kat sal hulle verjaag.

Ek mis my maatjies. Ja, ek weet….pas aan, maak maats blah blah blah fkof. Ek wil my ou vriende sien waar ek gemaklik voel om te sê en te doen wat ek wil en al point and laugh ons soms is ons darem so amper normaal (watookal normaal is – open to discussion).

Nog geen geskenke is gekoop nie en dit pla my nie eers hierdie jaar nie. Geen mad rush nie en geen behoefte vir die mal (lees mall) nie.

Later die maand gaan ons Kaap toe. My voete krimp al klaar as ek dink aan daai grote yswater waar jy nie kan swem nie. Ek is seker die visse wat jy daar aantref het almal designer dry suits anders sal hulle nie kan oorleef nie. Miskien kan ons by Snoekies ‘n draai maak – hoe water my mond nou.

Ek dink ek is verslaaf aan reality shows – net vir die doel om my gunsteling tydsverdryf te beoefen – point and laugh.

Ek mis my Dischem trippies saam my maatjie.

My hart is seer vir my twin. Ek soek ‘n towerstaffie wat ek kan swaai en alles net kan fix.

Babas mag nie doodgaan nie. Veral nie splinternuwe babas en splinternuwe mammas nie. Dis net verkeerd.

Ek mis my familie – my eie familie al is hulle ‘n bietjie disfunctional dis oraait, dis darem iets wat ek myne kan noem en hulle is lief vir my nes ek is.

Hierdie week gaan hel wees sonder Rooikop. Ek wil al klaar bel en sê hy kan maar nou huistoe kom.

Ek wens Lulu het ‘n groter woordeskat gehad as meaaw.

‘It’s The Thought That Counts’ – So At Least Put Some Thought In It Then

So it’s almost Christmas and the madness begins. The malls and shopping centres are a buz with people running around shopping for the ‘perfect gift’. This makes me wonder, are they shopping for a perfect gift for themselves or for the lucky (or sometimes unlucky) family member or friend.

Honestly, how many gifts you received are hidden at the back of a cupboard or in the garage or, horror of horrors, have you recycled?

I must admit, I have recycled many gifts as I don’t see the need of having something and not being able to use it. Many gifts of perfume have ended up being used as toilet spray – at least I used it.

No, I’m not being difficult or bitchy, but the main excuse or reasoning used by people is “It’s the thought that counts”. So, if it IS the thought that counts, put some thought in it, for if you don’t the recipient probably will feel that it was just an afterthought. Something bought just for the sake of buying something. Although this makes me sound like an aweful person, I’m sure I’m not the only one who feels this way (maybe the only one who admits it though).

So, this year, please think before you buy. You’re actually going to spend hard earned money, so put some thought into it. Don’t let the season get the better of you. Think about the person you’re buying for and what he/she is interested in. Next time you visit your friends and family, make mental notes. It’s easy and will save you lots of money and the other person will have more cupboard space.

En Dan Vee Jy Jou Oë Uit En Hulle Is Groot!

Vandag is ‘n dag vir die boeke! Rooikop se eerste amptelike werksdag. Dis met ‘n swaar gemoed dat ek moet besef my klein Rooikop is nie meer so klein nie. Skielik voel ek oud – stokoud.

Waar is hierdie kleine mannetjie wat nou die dag saam sy niggie graad 1 toe gegaan het?

Hierdie klein snip wat nie kon wag dat Ma moet huistoe gaan dat hy kan ‘werk’ nie?

Die groot seun wat nooit te groot was vir ‘n drukkie nie?

Die besige bytjie wat soms ook die batterye moes herlaai?

Ewe skielik kyk die buksie al vir Ma in die oë!

En hy upgrade van ‘n scooter tot ‘n volla!

En hy gaan matriekafskeid toe saam sy meisie!

Nou is dit grootmenswêreld vir die kleinman en hy werk bietjie vir Desember se matriekvakansiegeld. Volgende jaar is dit tydelike studies en werk en grootword.

Kobie, ons het iets reg gedoen! Jy sou so trots gewees het.

R, dankie dat jy die pad verder saam ons stap.

Rooikop, ons is lief vir jou! Dis al.

 

 

 

 

 

Totsiens Ouma

Ja, ek weet dis maande gelede maar ek het nog nie woorde gehad nie. Miskien het ek nog steeds nie al die woorde nie.

Na Ouma letterlik maande omgebid het, is haar plekkie leeg. Ons harte is seer, maar daar is soveel om oor dankbaar te wees ook.

Dankie Ouma vir die varsgebakte brode as ons kom kuier het. Onthou Ouma die laaste keer s’n was vergeet in die oond. Ek was heel verbaas dat Ouma dit ‘gered’ het deur dit nat te spat en in ‘n doek toe te draai – regte stadskind tsk.

Dankie Ouma vir al die gebakte koekies (ja, dit was vir die kerk maar ek en Kobie kon dit nie weerstaan nie. Het Ouma ooit agtergekom daar is ‘n paar dosyn weg na ons kuiers?)

Dankie Ouma dat ek ‘n Ma het wat vir my ‘n rots is al is ons bloed nie eners nie.

Dankie Ouma dat ek vir Kobie gehad het. Julle giggel seker nou lekker saam ne.

Dankie Ouma vir Ocean Basket memories – ek giggel nog elke keer as hulle die broodjies bring.

Net Dankie Ouma.

 

Have Your Cake And Eat It!!!!!! Really

Ek brag ‘n bietjie!!!! R se sussie is ‘n bobaas bakster en het haar eie besigheid nou begin na maande se wik en weeg. Sy is ‘n kreatiewe siel wat prentjies in 3D sien waar ek nie eers prentjies sien nie. Haar nuwe baba Tatiana’s is gebore en ons wil graag hê julle moet hierdie fantasie saam ons beleef.

Gaan besoek asseblief die site en plaas tonne en tonne en tonne bestellings 🙂

Ek sal natuurlik hier blog oor haar kreatiewe baksels en hoop dat julle sommer lus kry om koek te eet.

LET THERE BE CAKE !!!!