Die 5de Januarie 2012 het soos ‘n berg voor my gelê. Ek weet dit klink dalk na ‘n baie negatiewe siening (onthou ek werk hieraan), maar ongelukkig sien ek soms die glas as half leeg instede van om net dankbaar te wees dat daar wel iets in die glas is. So twee jaar terug het ek geskryf van Rooikop + Skool = disaster, en as jy my blog volg sal jy wel weet wat ek bedoel.
Rooikop het sy uitslae hierdie keer self by die skool gaan haal en my natuurlik laat voel asof ek maande lank moes wag vir die nuus. Die klein wetter bel my toe nogal van die skool af en laat weet dat dit nie goeie nuus is nie. Natuurlik het dit gevoel asof my wind uitgeslaan was! Toe hy uiteindelik by die huis uitgekom het en ek die uitslae self gesien het was hierdie Ma darem maar so trots, verlig, bly, verlig, in die wolke, verlig, ekstaties, verlig. Het ek genoem dat ek verlig was?
My ou Rooikop het in my oë goed gedoen met ‘n onderskeiding in TT (ek het nog nooit gewoond geraak aan die nuwe benamings van die vakke nie). Hy mis twee ander onderskeidings met 3% elk en sy juffrou het voorgestel ons laat die vraelstelle hermerk om te sien of hulle die ander drie persent iewers kan opspoor nie. Dit sal hemels wees, maar hierdie Ma is tevrede.
Geluk Rooikop Ma is so trots op jou en nou stap ons weer vorentoe in ‘n nuwe avontuur in. Saam sal ons berge kan versit, al vat dit soms bloedsweet. Dis nogal moeilik om met ‘n mini-me saam te leef maar ons raak al hoe beter hiermee ne.
Baie geluk!
Dankie *buiging*.